JENNIFER ZAMUDIO

 

Datum : 10 August 2017

Tyd: 19:00

Plek : De Ark Guesthouse, Lydenburg

Venue: De Ark Bonaparte Theatre

 Koste: R120 per persoon

 


Wie is Jennifer Zamudio?

jenniferNa reeds langer as 15 jaar in die Afrikaanse Musiekbedryf geniet Jennifer Zamudio nogsteeds ‘n suksesvolle loopbaan, waarop sy baie trots is. Sy is sinoniem met styl, harde werk, sukses en energie.

Op die verhoog is Jennifer ‘n onbeskryflike bondel energie en met haar natuurlike aanvoeling vir vermaak kry sy vinnig ‘n gehoor in die palm van haar hand. Haar spontane “weskus-humor” en gemak laat menige konsertganger skater van plesier terwyl hulle maar net nie kan stil sit in een van haar vertonings nie.

Jennifer het haarself goed in die musiekbedryf gevestig as sanger, liedjieskrywer en Compére (MC), en net soos wat sy daarvan hou om musiek met lekker woema te sing, is sy self gaande oor haar ernstige emosionele ballades, wat altyd haar kenmerkende alt stem tot sy volle reg laat kom. Jennifer is “verlief op die lewe” en dit word beklemtoon in alles wat sy doen en aanpak. Haar energie is verseker aanvoelbaar en aansteeklik.

Alhoewel heelwat mense al gedink het haar vreemde Spaanse van (foneties: ZA-MOE-DIE-HOU), is ‘n verhoognaam, is dit haar eie en sy is trots op haar Afrikaanse herkoms, al het dit nou iewers ‘n tikkie Spaanse bloed in. Jennifer het in die Kaapse Weskus grootgeword maar woon reeds 25 jaar in Pretoria.

Sy het alreeds elf vollengte solo albums op haar kerfstok, en is bekend vir haar treffers, Hart se loper, Hoor Hoor, Walvisbaai, Die lewe is ‘n liedjie, Ek sal berge klim vir jou, Hart en Siel, Sê dit harder en nou haar nuutste treffer Ongelooflik.

Van Jennifer se hoogtepunte sluit in

Jennifer toer letterlik die land vol, selfs tot in Namibië, waar sy ‘n groot aanhang opgebou het. Van haar grootste loopbaan hoogtepunte sluit in: Haar liedjie “Ek sal berge klim vir jou” vanaf haar cd “Die lewe is ‘n liedjie” het SA verteenwoordig by die “Global Song Contest 2011” – die lied het die 16de plek gehaal uit 150 deelnemende lande.


jenniferzamudiohartensielVir haar cd “Hart en Siel” (2013) het sy die meester sanger-liedjieskrywer, Rudi Claase genader om vir haar ‘n lied te skryf. Rudi het ingestem en vir haar die allermooiste snit geskryf, “Hart en Siel” word toe ook die titelsnit van daardie cd en het vir sy eie hoogtepunte gesorg. Hart en Siel” was op menige radiostasies se trefferparades op no.1 en het ook vir 22 weke aaneenlopend by een spesifieke stasie geboer op die no.1 plek.

Die lied was ook op vier verskillende stasies gelyktig op die no.1 posisie. Die cd het ook aan haar ‘n gesogde Ghoema Musiektoekenning 2014 nominasie besorg – Beste Kontemporêre Album deur ‘n Vroue Kunstenaar.

Vroeg in 2015 het sy hande gevat met Jewel Entertainment in samewerking met Universal Musiek (SA) en om haar 10de album, 15 Jaar Spesiale Uitgawe, uit te reik. Rudi Claase het weereens ‘n treffer geskryf vir die cd “Sê dit harder”, en neem ook ‘n duet met Jennifer op van die lied “Hart en Siel”. Die enkelsnit “Sê dit harder” het ook by verskeie gemeenskapsradiostasies die no.1 posisie behaal.

Jennifer het haar grense so bietjie verskuif deurdat sy op daardie album ook vir die eerste keer vier internasionale snitte opgeneem het wat spesiaal vir haar geskryf is deur die liedjieskrywers Allen McKendree (Nashville), Blue Miller (Liverpool), Daniel Cartier (London), Stephen Langstaff (London) en Sophie Cooke (London). Die lied “Eyes wide open” was beskou as “uitnemend vir ‘n Afrikaanse kunstenaar” en het laat mense in totale bewondering gelaat van Jennifer se veelsydige talent.

 In November 2015 word Jennifer genader deur ‘n Internasionale Aanlyn Sangkompetisie, SuperXtar, om haar musiekvideo van “Sê dit harder” in te skryf. Die kompetisie geskied in 3 fases en is gebasseer op aanlyn stemme. Sy wen die eerste twee rondtes en dring deur na die Finaal, waar sy Suid Afrika & Afrikaans gaan verteenwoordig, in 2017 in die VSA.

Maart 2016 word Jennifer benoem vir ‘n Ghoema Afrikaanse Musiektoekenning in die kategorie “Beste Kontemporêre Album deur ‘n Vroulike Kunstenaar” vir haar “15 Jaar Spesiale Uitgawe” CD wat Junie 2015 vrygestel is.

 In Junie 2016 reik Jennifer, weer as onafhanklike kunstenaar, haar 11de CD, Ongelooflik uit wat reeds voor vrystelling deur radiostasies bestempel word as “verseker iets om na uit te sien”. Die titelsnit pryk reeds op ‘n paar stasies se Trefferparades en kort daarna begin draai die musiekvideo van die titelsnit op verskeie TV kanale.
maxresdefaultJennifer Zamudio het haarself al goed in die vermaaklikheidsbedryf gevestig as Sangeres, Liedjieskrywer, Compére (MC) en Televisie-Veldaanbieder, en sy word beskou as een van ons land se voorste Afrikaanse vermaaklikheids sterre.